Frieda Ollemans

By Willem van der Walt

Ek onthou haar nie so goed nie.  Maar ek onthou die whisky-en-sigare stem en die oë wat alles deur die lens van ironie gesien het.  Haar kleding … wel, geen toegewing aan mode nie.  Ja, jy kon dit dit nie ontduik nie … hier was ‘n boheem wat uit die laat modernistiese era gerys het.  Haar man Helmut was, in die woorde van ‘n geswore vyand, “die mees professionele wynmaker in die Wes-Kaap”. En Helmut ondersteun elke hamer, elke beitel, elke splinter sederhout of ebbehout, alles wat Frieda doen, want sy’s ‘n kunstenaar, en dis wat ons met kunstenaars moet doen.

Odusseus by Susse Bakker

Frieda is in 1915 gebore.  Sy het in die vroeë-dertigerjare in Kaapstad onder H.V. Meyerowitz beeldhouwerk studeer.  Dit is toe Slade Skool in Londen waar sy vir drie jaar ‘n bekroonde loopbaan vir haar gemaak het.  Met die terugkeer na Kaapstad in 1940, maak sy marionette vir poppeteater en doen pionierswerk met die stigting van kunsskole vir kinders in die Wes-Kaap.  Die Frank Joubert-kunsskool in Stellenbosch is ‘n voorbeeld.

Woud nimf by Susse Bakker

Sy had uitstallings in Suid-Afrika asook oorsee.  Van haar werk word hoog aangeslaan in die Museum van Moderne Kuns in New York, asook Chicago.

Haar eerste eenpersoon-uitstalling is in 1972 in Stellenbosch gehou.  Sy lewer werke van ebbehout, sederhout, kiaat, olienhout en lood.  In dié uitstalling doen sy iets wat vir my as ‘n historiese oomblik in die kunsgeskiedenis staan: sy skryf op bordjies Vat asseblief aan die beelde.

Dit was duurder as peper, maar ek klem my tande en doen dit.  En ek het dit nog – ‘n beeld van Frieda.  Haar werk is vir my harmonieus asook geset teen ‘n klaarblyklike realisme.  Die lyne vloei.  Ek het haar eenkeer hoor sê, Die hout sê my wat dit moet word. En dit is die organiese ontwerp, nooit verontrustend nie, nooit strak of skerp nie, wat voortdurig die oog lei, op sensuele trant na verbasende besonderheid.  Die afronding is uiters bevredigend.  Jy bepeins die stukke.  Ek bepeins myne al meer as vyf-en-veertig jaar.  Diegene wat dit van my erf, sal dit ook bepeins, soos die kleinkinders van hulle kleinkinders.

SAMSUNG CAMERA PICTURES

Willem van der Walt se Afrikaans blog: LoerToer

1 Trackback / Pingback

  1. Bly af van die gras - Celebrate Southern Africa

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*