Bly af van die gras

jacaranda

deur Marianna Marks

Dit was nog nie heeltemal Jakaranda tyd nie, maar die bloeisels was naby.

Sy kon dit aanvoel toe sy die gras oor en oor tussen haar kaal tone streel.

Hierdie was ‘n tyd van nuwe geleenthede – ‘n soort van hernuwing saam met die lenteson na jare van rusteloosheid in die Kaap.

Sy kan weer vrylik droom – van haar toekoms as ‘n verpleegster, ‘n nuwe stad en miskien ook ‘n lewenspad saam met iemand spesiaal…

Sy leun agteroor en haar lang, swart hare gly-gly oor haar skouers terwyl die son saggies haar skouers streel.

Sy diep stem laat haar skrik.

“Kan jy dan nie lees nie? Die bordjie sê duidelik ‘Bly af van die gras’.”

Dis ‘n jong man en sy kan sy donker oë sien flits van irritasie.

“Jammer,” antwoord sy.

Sy sien sy oë op haar terwyl sy haar bene een vir een ontkruis en stadig opstaan.

Die son se strale voel skielik nie meer so warm nie en sy trek haar dun truitjie styf vas teen haar skouers.

“Nog net ‘n paar meter verder…,” fluister sy saggies aan haarself.

Die groen bankie omhels haar moeë lyf.

Een vir een trek sy haar sandale stadig aan.

Die mense stroom vlak voor haar verby – party glimlag, meeste lyk of hulle eerder moet draf.

Dit pla haar nie. Haar gedagtes is op die vreemdeling hier voor haar.

“Hy is net ‘n jong man,” sê sy aan haarself. “Maar sy oë lyk gaaf en intelligent; miskien moet jy ontspan.”

Sy draai haar hare liggies met haar hand om haar nek en lig haar gesig skuins na hom.

“Jy het seker iets beter om te doen as om mense te laat skrik?”, vra sy kamma braaf. “Werk jy dan hier?”

Sy sien sy oë op haar mond rus.

Dit voel soos ‘n ewigheid voordat hy sy oë oplig en met haar bloukol-blou oë kontak maak.

Haar wange is skielik pienk en sy skuif effens ongemaklik terug op die bankie; verlig toe sy sien dat dit hom uiteindelik laat glimlag.

Sy glimlag terug en let op hoe hy amper sy balans verloor.

Hulle oë ontmoet weer, maar die keer glimlag hulle albei – asof hulle dit beplan het.

“Ek wou net ‘n bietjie rus. Dit was ‘n lang dag by die hospitaal,” sê sy terwyl sy stadig begin stap na die lenteblomme wat haar soos ‘n magneet aantrek aan die anderkant van die paadtjie.

“Wat doen jy daar?” vra hy met ‘n nuuskierige frons. “By die hospitaal, bedoel ek.”

“Ek ontvang opleiding om ‘n verpleegster te word,” antwoord sy. “Maar ek het sopas begin, so moet nog daaraan gewoond raak.”

“Ek sien,” se hy. “Ek ontvang ook opleiding hier by Telkom as tegnikus.”

Sy sien hoe hy effens huiwer, maar tog vra hy: “Wil jy ‘n pot rooibos deel hier onder by die kafee?”

Net soos ‘n digter eenmaal gesê het oor twee waterkewertjies wat met mekaar begin dans, begin die kring om hom en kring om haar ineenkring.

Koffie, fliek en ure van hand-in-hand saamloop en praat oor drome, kindwees en musiek.

Die Jakarandas bloei en jaar na jaar strooi hulle blou-pers konfettie die strate vol.

Die kring om hom en haar raak sterker en toe ook een.

Werk, reis, kinders, kerk… kringend gaan om hom en haar die tyd verby, die tyd verby.

Dis ‘n soet betowering van hy en sy, van sy en hy dink sy.

Hy is haar sielsmaat, haar huispriester, haar man.

Groter en groter raak die kring – werk, reis, kinders, kerk.

Maar die kring van werk raak ook uiteindelik ‘n brak verbittering.

Nie skielik uit mekaar verskrik – dis altyd eerder “O waar is jy?” en dan “Is jy eintlik bly?”

Nou kring dit nie meer om hom en haar – dis kring en teenkring van tyd en werk, verpligtinge tussen kinders en kerk. Dis hy en sy, sy en hy.

Intussen gaan so ook die tyd verby, die tyd verby.

Die gras word droog, die gras raak lank, die gras word nat.

Soos die waterkewers is hulle nou uit mekaar verskrik.

Die kring van ma wees, vrou wees, huisoppasser en kerkmens, het ook die water se spiëel gebreek.

Die gras is groen, die gras het dou. Sy het lankal nie meer kans om kaalvoet op die gras te loop nie.

Dis weer September in die Jakaranda stad.

Die bloeisels is oppad, sy kan dit aanvoel. Haar tone is weer in sandale, maar sy kan die dou voel tussen haar tone terwyl sy saggies stap op die gras.

Hy is nie meer daar nie, Die bordjie ‘Bly af van die gras’ ook nie.

Dit kring weer om haar, maar die kring en teenkring van hy en sy, van sy en hy is vir nou vir eers verby.

Daar is nou net weer sy.

Marianna Marks

Read another Afrikaans piece by Willem van der Walt: Frieda Ollemans

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*